Dinosouriërs en die invloed van dinowinde op klimaatverandering

Dinosouriërs en die invloed van dinowinde op klimaatverandering

Die goeie nuus is dat ‘n afkoelende son dalk die aardbewoners ‘n bietjie grasie gaan gee om sy rol in klimaatsverandering te beperk.

Nog beter nuus is dat daar nie meer dinosourusse op die aarde rondloop nie.

Die Nederlander, Vincent Dekker, skryf nou ‘n reeks artikels oor klimaatverandering vir die koerant Trouw, en hoewel hy die onderwerp baie ernstig opneem, verwys hy tussendeur na van die vreemder teorieë oor hoekom die klimaat kan verander.

Tong in die kies bespreek hy die kwessie van die sogenaamde dinowinde.

Dit werk so. ‘n Groot dinosourus van sowat 20 ton sou na raming sowat 2 500 liter metaangas per dag opgelewer het. Wetenskaplikes van Current Biology vermoed die gediertes het saam sowat 500 miljoen ton metaangas

Image001
geproduseer. Beeste en ander herkouers produseer daarenteen vandag saam “slegs” sowat 50 miljoen ton megaangas per jaar.

En metaangas, soos CO2, is ‘n broeikasgas.

Wetenskaplikes maak al lank sommetjies oor hoeveel metaangas veral sommige rysmmierspesies oplewer, en het al besin of dié gasvryheid nie op ‘n manier ingespan kan word nie, want metaangas wat brand lewer nie broeikasgasse op nie.

Maar in dig bewoonde lande soos Nederland is die vrystelling van metaangas ‘n kopkrapper, want daar is ook baie beeste, en hulle maak hopies wat metaangas afgee. En omdat dit beperk word word daar selfs snags stilletjies beesmis op vragmotors gelaai en oor die grens in België gaan aflaai om dáár te gaan metaangas vrystel.  ‘n Ou uitgediende kolekragsentrale is toe omskep om die metaangas uit die mis te verwyder, skoon krag op te werk en die neweproduk is uitstekende bemesting.

Dekker meen ten slotte dis dalk ‘n goeie rede om nie te oorweeg om deur genetiese manipulasie ‘n eietydse Jurassicpark te skep nie.

In Nederland sal die vragmotors wat die slagysters snags België toe smokkel waarskynlik nie kan voorbly nie. In Suid-Afrika kan ‘n mens die tuinier se woede kwalik indink om een oggend so ‘n slagyster in die middel van sy grasperk te kry, na die gedierte ‘n pad deur sy duiwelsvurkheining geloop het.

Op ‘n ernstiger noot, Dekker se artikels kan gevolg word by Twitter @VincentDekker4.

Bruin rubriekskrywers se FW-reaksie

Bruin rubriekskrywers se FW-reaksie

Hulle is kwaad vir FW de Klerk, dis baie duidelik. Sommer baie kwaad.

Die een na die ander is hul rubrieke in Die Burger geplaas – Johann Maarman, Jonathan Jansen en toe Henry Jeffreys.

Dis met groot aarseling dat ek hulle as bruin rubriekskrywers beskryf. Vir my is ‘n rubriekskrywer ‘n rubriekskrywer, en is al wat saak maak is of dit ‘n goeie, slegte, werklik onafhanklike, ‘n linkse of regse is.

Speel ras of geslag byvoorbeeld (veel) van ‘n rol by Rhoda Kadlie?

Boonop dink ek nie enige van die drie rubriekskrywers wat nou so onder FW ingeklim het sal graag hulle in hul rubriekskryfstatus as bruin wil klassifiseer  nie. Minstens een het al na homself as swart verwys.

Prof. Jansen het al op facebook “sy kinders” – gewoonlik ‘n verwysing na sy studente – aangeraai om nie op vorms die vraag oor ras in te vul nie. Daarmee het hy groot respek by my afgedwing.

Dit is dus nie net met huiwering dat ek die “bruin” in hierdie verband gebruik nie, maar teensinnig. Maar dit kan dié keer ook nie anders nie.

Net soos dit ook nie anders kon nie toe ‘n mens bruin rubriekskrywers se skrywes gelees het na Jimmy Manyi sy uitlatings gemaak het wat gewoon nie anders as anti-bruin beskou kan word nie.

Met ander woorde, wanneer rubriekskrywers min of meer eenstemmig op ‘n gedeelde verlede reageer, en die eenvoudigste uitkennorm is die velkleur.

Dit sou stellig minstens nie heeltemal verkeerd wees nie, om te sê bruin rubriekskrywers (bedoelende in die algemeen, nie noodwendig die hierbo genoem nie)  het ‘n belangrike begeleidingsrol gespeel in die bruin uittog uit die ANC na die Manyi- en soortgelyke insidente. Toegegee, van die bruin rubriekskrywers (weer eens in die algemeen) het eerder gevolg as begelei, en nog minder gelei.

Op ‘n vreemde manier is daar ‘n band tussen FW, of dan sy Stigting, en die bruin gemeenskap, en dit dra dalk juis by tot die ontsteltenis. Tot veral Solidariteit op die toneel gekom het met sy voorgenome hofsaak teen Korrektiewe Dienste se toepassing van nasionale kwotas in die Wes-Kaap, tot nadeel van bruin aanstellings en bevorderings, was die FW de Klerkstigting waarskynlik die mees sigbare stem van protes daarteen.

‘n Tweede “diskrepansie” in die verwikkelinge is die feit dat, by behalwe enkele wit individue, die tuislandbeleid nooit ‘n bruin tuisland in die oog gehad het nie. En dis oor die tuislandbeleid-stellings wat FW  nou by die bruin rubriekskrywers in die sop.

‘n Klein historiese teruggreep. In die laat 60’gerjare het die destydse premier. John Vorster, ‘n gradeplegtigheid van die US toegespreek. Hy het by dié geleentheid die tuislandbeleid uiteengesit, beklemtoon dat dit regverdig moet wees, en ook beklemtoon dis vir die swart volkere bedoel – en toe oor die politieke toekoms van die bruin mense gepraat. Dit, het hy gesê en na die studente in die gehoor gewys, is iets wat hulle sal moet aanspreek.

Dit is op talle wyses “aangespreek”. Die woorde “parallelle ontwikkeling” is gebore, en terme soos die Wes-Kaap as kleurlingvoorkeurgebied, met ‘n Kleurlingontwikkelingskorporasie, het dié beleid probeer toepas. Uiteindelik het die driekamerparlement ingevolge die 1983-grondwet gekom.

Die naaste aan tuislande is stellig die bruin landelike gebiede, wat saam honderde duisende hektaar beslaan, maar grotendeels in dorre gebiede soos Mier en die Richtersveld. Suksesvolle grondeise het nie noodwendig grond bygevoeg nie omdat eerder kontantvergoeding verkies is, terwyl ‘n taamlike komplekse skikking oor diamantgronde bereik is. Soms haper dit, soos die Korannas wat wil wêreldhof toe oor hul aanspraak op Wurrasoord / Bethanië waar ander die voordeel gekry het. Die Korannas se aanspraak is onder meer op ‘n inskrywing in die Sandrivierkonvensie bevestig, maar probeer nou ‘n kopie daarvan bekom.

Maar of die tuislandbeleid op bruin betrekking gehad het of nie, dit is met dieselfde felheid as die kritiek uit swart gelede aangespreek. In die emosionele konteks is dit bloot van akademiese belang of die reaksies op FW se onderhoud dit is wat FW in die onderhoud gesê het, en of dit eerder ‘n klassieke geval is waar die kollektiewe pyn ‘n strooipop geskets het, en dat die kritiek eintlik teen die strooipop gemik is.  

Dit is ook belangrik om daarop te let dat die kritiek op FW nié net uit bruin en swart geledere nie, maar ook uit wit geledere swart. Swart kritiek, soos in die Sowetan se hoofartikel, het trouens basies dieselfde aanslag as die kritiek van die drie bruin rubriekskrywers, maar omdat dit in die Engelse pers verskyn, is dit grootliks nie onder die wit gemeenskap se oë nie.

Maar die drie rubriekskrywers se kritiek verskil in ‘n paar belangrike opsigte van die kritiek uit veral liberale wit geledere. Hierdie wit kritiek handel nie so seer oor wat FW gesê het nie, maar dat hy dit gesê het terwyl die emosies nog te diep daaroor loop. Daar is ‘n bewustheid dat daar by baie van die voorstanders van die tuislandbeleid nie die geringste kwaadwilligheid teenwoordig was nie, nie destyds nie. Hulle toon ook begrip daarvoor dat dit destyds in die konteks gestaan het van redelik wydverspreide internasionale praktyke, soos die formele “segregation”-beleid in die VSA en slegs blanke immigrasie na Australië.

Maar dit handel hier eintlik oor die verskille met die breër stroom wit denke. In ‘n paar rubrieke, verwysend na die US, het Tim du Plessis gewys op “gister se denke” oor iets wat prof. Anton van Niekerk sou gesê het, maar nie gesê het nie. Maar, het hy vroeër geskryf, dis in om vir ‘n mens se regte op te staan.

Dis tekenend van iemand wat besig is om skuldgevoelens af te skud, en wil aanbeweeg. Dit handel nie oor regte opeis ten koste van ‘n ander nie, dit handel oor regte wat die grondwet en die internasionale reg bied.

‘n Bespreking met die uitsluiting van hoe die kwessie in die Hervormde Kerk (NHK) neerslag gevind het, sal onvolledig wees, selfs op die gevaar af om ‘n paar harde skoppe in die tande te kry. Almal in die land is min of meer bewus van die polemiek van die NHK se sogenaamde “apartheidsbesluit.” Daarna is daar groot tweespalt en verdeeldheid waar dié wat ongelukkig is oor die besluit, hulle as die steedsHervormers gegroepeer het. En laat daar dadelik haas wees om te sê dis baie komplekser as wat dit nou geskets is, en dat dit nou veel meer oor kwessies rondom gereformeerdheid en fundamentalisme handel.

Maar wat die apartheidskwessie betref, kan dit dalk ten beste opgesom word as dat veral met die aanvanklike formulering gevoel is dat van mense verwag word om iets as verkeerd te beskou waarmee hulle en hul ouers die beste bedoelings in die wêreld gehad het.

En die swaartepunt van hierdie verset is nie so seer landelike gemeentes, of gemeentes in Pretoria se meer konserwatiewe voorstede nie. Nee, dit is gesetel in die makro-gemeentes in die Oostelike voorstede van Pretoria, waar verreweg die meeste Afrikaners hul kruisies nié by tipiese Afrikanerpartye trek nie.

Die lang relaas bloot om te toon dat die beoordeling van gesindhede nie ‘n simplistiese ding is om uit te pluis nie.

Benewens die gewone sarsie walglike rassistiese kommentaar op die drie bruin rubriekskrywers se artikels, is daar ‘n meerderheid wat hulle min of meer in Tim du Plessis se idiomatiek uitdruk. Heelwat van hulle was waarskynlik nog nie gebore nie toe die laaste apartheidswet amper 21 jaar gelede uit die wetboek verwyder is.

Al wat hulle ken is die ANC se neo-apartheid. Min van hulle is waarskynlik in hul denke deur hul ouers of die samelewing, gesnoer deur politieke korrektheid of sosio-ekonomiese vergelding, beïnvloed. Dit is minstens ten dele ‘n skepping van ‘n denkende jeug wat nie kan verstaan hoekom hulle die kort lootjie moet trek nie. Dis hulle wat graag prof. Jansen se raad wil volg en weier om op aansoekvorms vir beurse en werk hul ras aan te dui.

Volg ‘n mens die mediaverklarings van die FW de Klerkstigting oor wat die Stigting en FW self sê, kristalliseer daar ‘n duidelike frustrasie oor hoe die ANC die nasionale akkoord en dus die grondwetlike beginsels, algaande meer en meer eenkant toe stoot, en selfs op 5 Maart ten dele “formeel” opgesê het. Harde woorde val gereeld tussen die Stigting en senior ANC-ampsbekleërs. En hoe meer die ANC vir FW in die tande skop, hoe meer stokke kry sy vyande (ja, ‘n mens kan hulle weens die felheid van bitterheid nie anders noem nie) om dié oud-president mee te looi.

En niemand met ‘n siel word nie minstens effens seergemaak deur sulke kritiek nie.

Die fel kritiek wanneer daar ‘n klein bietjie begrip vir die seer en pyn aan die een kant blyk, en weer omgekeerd, toon hoe diep die vlakke van polarisasie lê. En dis jammer dat dié kwessie nie aangespreek kan word sonder om in die dryfsand van die simptome – selfs na 21 jaar – vas te val nie. Bloot die sand te laat uitloop gaan niks verander nie ... dat die jeug weer weens nuwe kwessies ook erg aan die polariseer is, is maar te duidelik onder die land se aandag gebring. Julius Malema se sangtalent en ander uitsprake het stellig die land gepolariseer, maar nie naastenby soveel as die wye solidariteit wat hy hiermee van die ANC op alle vlakke gekry het nie.

Vergewe en vergeet is egter twee dinge. Beide begrippe vereis volwassenheid, harde werk en ‘n voortdurende wag voor die mond.

Die aanspreek van versoening is ‘n komplekse, multi-dissiplinêre proses. Te veel skade hieraan is al deur politieke lomperds aangerig, maar waarskynlik net soveel wat as kundiges van ‘n enkele vakgebied hul eie perspektief as die volle antwoord aangebied het. Baie van die medisyne word nog deur minstens sommiges as politiek inkorrek beskou, en so vergroot die gaping op die grafiek van die kumilatiewe spanningshipotese.

En ja, so blyk dit uit die reaksies...daar is nie net twee groepe nie, maar ‘n verskeidenheid elk met sy eie diversifikasie en stratifikasie.

Herman Toerien

Image002
        
Image001

Nuuskommentaar: Die slag van Braamfontein: Wie die eerste klip of komkommer optel...

Nuuskommentaar: Die slag van Braamfontein: Wie die eerste klip of komkommer optel...

Die slag van Braamfontein is gelewer, en hoewel die DA-optoggangers volgens die beeldmateriaal voet in die wind geslaan het, is die Suid-Afrikaanse demokrasie die groot verloorders.

Cosatu het dit duidelik gemaak – dié organisasie beskou homself as die alleen-titelhouers van werkersbelange. Dit sluit goed aan by soortgelyke geluide vanuit die ANC dat daardie party die alleen-titelhouers is van die regeermandaat oor die land, en selfs die grondwet  word nie as temperende meganisme geduld nie.

‘n Opposisie wat die drieparty-alliansie uitdaag, word ook nie geduld nie. Die ANC wil sy energie inspan om die Wes-Kaap, soos die ANC dit stel, van die DA te bevry. Die ANC het geen aptyt om op die tuisfront ‘n eksterne bedreiging te moet verdedig nie.

Vir die  ANC is die onaangenaamste ervaring waarskynlik dat die DA daarin slaag om ook swart steun te trek, al probeer die ANC en sy vennote alles in hul vermoë om die DA in sy beeld van ‘n elitistiese wit verlede vasgeverf te hou.

Wanneer ‘n voormalige wit party dan dié persepsie begin aantas, so lyk dit, word na die mentaliteit van vuurhoutjies en buitebande teruggeval om afvalliges te straf en ander te intimideer.

Dis geen resep vir demokrasie nie, en stemkeuses is byna altyd strategies, in plaas van soos dit hoort, afgestem op ‘n vry keuse om vir beginsels te stem.

Uiteindelik dan ook die vraag: Hoeveel mense wat van die optog en sy afloop kennis dra, weet veel van die oorspronklike kwessie – die voorgestelde jeugsubsidie?

Emosies oor die optog is bedoeld en onbedoeld aangeblaas. Aan die een kant was daar die woordestryd tussen die DA-leier, Helen Zille, en Cosatu se grootbaas, Vavi. Cosatu se aangevuurde reaksie was vanuit die staanspoor een van onverdraagsaamheid teen grondwetlike demokratiese regte.

Image002
Soos met enige oorlog is die vraag nie so seer wie die veldslag gewen het nie, maar wie in die wye persepsie die beste daarvan afgekom het. Was Suid-Afrika deel van die klassieke vrye Weste, sou die antwoord eenvoudig wees: Cosatu het gewoon buite die aanvaarbare spelreëls opgetree. Die “occupy Wall Street” wat oor ‘n groot deel van die wêreld versprei is, is nie deur politieke teenstanders aangeval en verdryf nie. Dit is lank geduld, en uiteindelik het die polisie na behoorlike regsprosesse ingegryp – en is hard gestriem waar skynbaar onnodig hardhandig opgetree is.

Cosatu se teenreaksie staan in die konteks van bykans landswye protesaksies teen dienslewering. Geweld en vernielsug is alledaags, soos die groot skade wat onlangs aan die Bloemfonteinse Glaspaleis en naasliggende historiese stadsaal aangerig is.

Maar dis te vroeg om te beoordeel of Cosatu in sy oorwinning op die slagveld die harte van die Suid-Afrikaanse kieserspubliek gewen het. Suid-Afrika gaan egter op verskeie maniere verloor. Die klip wat die Mail & Guardian se verslaggewer, Nickolaus Bauer, teen die kop getref het word in Verslaggewers Sonder Grense se register aangeteken, en gaan Suid-Afrika se kreeftegang op die persvryheidsindeks versnel. Dit blaas ‘n rits dalings op ander indekse, soos die korrupsiepersepsieindeks en beleggersvertroue-indeks aan. Kortom, alle Suid-Afrikaners is die verloorders.

Die feit dat die DA se bedryfsbestuurder in Noordwes, Tiaan Kotze, ook teen die kop getref is, voorspel niks goeds vir ‘n persepsie dat Suid-Afrika ‘n sterk demokrasie het nie.

Teen dié agtergrond is uitlating van die DA se Gautengse leier, John Moodey, dat die gevegte die begin van ‘n nuwe 1976 is en dat die ANC en sy alliansievennote maar gewoond aan DA-optogte moet raak miskien nie die mees sensitiewe opmerking van die millennium nie. Min mense wat, van welke kant ook al, deur die destydse geweld geraak is, sal dié opmerking as in goeie smaak beskou, en Moodey behoort verskoning te vra vir dié ongevraagde opmerking.

Dit is nog heeltemal te vroeg om te bepaal hoe die insident die DA  se beeld onder sy eie ondersteuners gaan raak. Kan die gemiddelde Afrikaner-ondersteuner hom gemaklik vereenselwig met die optogkultuur?

Om ‘n multi-kulturele politieke tuiste vir almal te wees, was nog nooit maklik in Suid-Afrika nie. Dit word onderstreep deur die Sowetan se redaksionele reaksie op oud-president FW de Klerk se omstrede CNN-onderhoud:  “The former leader of the NP that gave birth to apartheid, believes certain elements of the backward political system, particularly the Bantustans, were ‘not morally repugnant’. De Klerk’s remarks in an interview with CNN has justifiably sparked outrage since he comes across as someone who hates nonracial democracy under a united South Africa. It is shocking that 18 years into a nonracial and non-ethnic democracy and 15 years since the adoption of the final Constitution, someone like De Klerk should just pop up and rubbish everything being supported by politically civilised citizens. His remarks smack of double standards. De Klerk must apologise for insulting not only all South Africans, but the essence of the nonracial, united South Africa.”

Die feit is egter dat die ANC self nie ‘n nie-rassige beeld kon bou nie, en onlangs drie Afrikaanssprekende akademici gevra het om ‘n ondersoek te loods na hoekom die ANC van minderheidsgroepe vervreem raak.

Die party wat waarskynlik van sy stigting af die mees nie-rassige kenmerke getoon het, die ACDP, het in ‘n redelike kort tyd van sewe setels in die parlement na drie teruggesak, en van sy agt setels in die provinsiale wetgewers ook net drie oorgehou. Die UDM het met sy aanvanklike tweekoppige leierskap, waarvan een Roelf Meyer was, na ‘n party teruggesak wat hoofsaaklik in die Xhosa-gemeenskap gesetel is.

Die DA gaan dit nie makliker vind nie.

Foto: Media 24

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien  

Image001

Nuuskommentaar: Bril na die verlede is teleskoop na die toekoms

Nuuskommentaar: Bril na die verlede is teleskoop na die toekoms

Onlangs was alles gereed – die orkes, sjampanje, roeiers en toeskouers by Dover. Toe word die replika van ‘n boot uit die Bronstydperk wat met replikagereedskap van 3 500 jaar gelede gemaak is te water gelaat – en die boot sink.

Die geleerdes gaan nou koppe bymekaar sit om vas te stel waar hulle nie 100 % reg was  in hul waarnemings van die Bronstydperk nie.

Vandag skryf prof. Jonathan Jansen, rektor van die UV en rubriekskrywer in Die Burger die volgende: “As jy wit Suid-Afrikaners mal wil maak, praat oor die verlede. As jy swart Suid-Afrikaners mal wil maak, praat daaroor soos F.W. de Klerk op CNN gedoen het. http://www.dieburger.com/Rubrieke/JonathanJansen/Jakkalsdraai-oor-reg-en-verkeerd-20120514

Intussen het De Klerk opnuut aangedui dat wat hy gesê het, verdraaid aangebied is. http://afrikaans.news24.com/Suid-Afrika/Nuus/De-Klerk-se-opmerkings-is-verdraai-20120514

Jansen striem hierna vir De Klerk en vervolg: “As ons nie kristalhelder oor reg en verkeerd kan wees nie, loop ons jeug gevaar om ons morele dubbelsinnigheid te erf. In die afgelope twee weke het hierdie morele dubbelsinnighede oor die verlede die hede met mening binnegedring.”…” Ons kan nie ons wonde uit die verlede genees nie tensy ons eens en vir altyd erken apartheid was boos, uit en gedaan.”

In die Akademie-tydskrif van Maart vanjaar word berig oor ‘n nuwe geskiedenisboek oor Suid-Afrika wat deur die land se voorste 26 historici, onder die leiding van prof. Fransjohan Pretorius saamgestel word, om “`n omvattende, ewewigtige en geloofwaardige naslaanwerk oor ons geskiedenis te skep, as teenwig vir die skewe haasbek-geskiedenis wat die arme kinders op skool deesdae lepels vol van gevoer word.” Aldus Hennie van Deventer, oud-redakteur van die Volksblad onder die titel, Die laaste boek.  http://hennievandeventer.com/hvdblog/?p=4050

Op RSG se aktualiteitsprogram, Kommentaar, was die deelnemers dit eens dat dit nog jare sal duur voor die onderwerp wat De Klerk aangespreek, objektief en emosieloos onder die loep geneem sal kan word.

Suid-Afrika is ook nie al land wat moeite het om perspektiewe uit die verlede onder die knie te kry nie. Hoofsaaklik weens die Nazi’s se optrede teen Jode, sigeuners en ander, het verskeie Wes-Europese lande wetgewing wat die ontkenning van volksmoorde strafbaar maak. Tog het Turkye die volksmoorde op die Armeniërs, Koerde en Assiriërs uit hul geskiedenisboeke verwyder, en is so deeglik hiermee dat Turksgebore parlementslede in Nederland al as parlementslede bedank het omdat hulle weier om te glo die volksmoorde het plaasgevind. Maar dit wat die Turke ontken is besonder lewend onder die slagoffervolke, en dié volksmoorde vier binnekort hul eeuherdenking. Turkye se ore gaan behoorlik tuit.

Paleontoloë, argeoloë en historici span nou in vele studies saam om te kyk hoe die mens en die natuur in die verlede by klimaatverandering aangepas het, sodat iets daaruit wys geword kan word met die oog op die toekoms. Daar is gewoon nie ruimte vir persoonlike of groepsentimente nie – dit vereis ‘n kliniese blik op die werklikheid.

Wanneer mense se motiewe in die verlede beoordeel word, is ander spelreëls egter nodig om die element van subjektiwiteit te bepaal. In ‘n onlangse meestersverhndeling by die US word onder meer duidelik getoon hoe uiteenlopend persepsies by wit en swart is oor hoe blankes hul grond bekom het. Verreweg die meeste swart mense glo blankes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel, terwyl baie min blankes en bruin mense hierdie denke deel. Malema se opmerking dat blankes misdadigers is wat swart mense se grond gesteel het, was nie in ‘n lugleegte nie. Dr. Pieter Mulder se kliniese uiteensetting in die parlement het ‘n soortgelyke reaksie ontlok as De Klerk se CNN-stellings en sy verduidelikings daarna.   

Die Romeins-Hollandse regstelsel, gebaseer op die beginsel van natuurlike geregtigheid, vereis egter dat daar begrip moet wees vir iemand se persepsie van die werklikheid, enersyds om te bepaal of daar kwaadwillige opset was, of om as strafversagting te oorweeg. Die Suid-Afrikaanse grondwet, wat die artikel oor administratiewe geregtigheid aanvul met ‘n artikel oor die reg van toegang tot inligting wat ‘n burger se regte raak en wat die staat hou, is een van die min grondwette in die wêreld wat so ver gegaan het om dit grondwetlik te kodifiseer.

In die geval van die Reitz-vier, was Jansen ‘n goeie voorbeeld van iemand wat dié konsep goed onder die knie het, en hy het wye lof hiervoor gekry.

Is dit werklik so eenvoudig om iemand as in sy wese as boos te beskryf, wat aan moedersknie geleer het alle mense is gelyk, en juis daarom moet verskillende groepe elk die reg tot volle selfbeskikking hê, en wat nooit die k-woord gebruik het nie soos sy ouers hom geleer het? Selfs al het hy akademies bitter swaar aan Kovsies gekry waar hy in die middel 70-gerjare verskil het van die dosent wat die studente verplig het om te leer van die “Christelike beleid van apartheid versus gelykstelling?” En juis verskil het omdat hy nie saamgestem het met die dosent se stelling dat apartheid nie ook op gelykstelling moet neerkom om Christelik te kan wees nie?

En verder, moet hy nou sy ouers veroordeel oor wat hulle geglo het, en gesterf het voor hulle die afloop van die geskiedenis kon beleef?

Voorts is daar die probleem dat die beleid van afsonderlike ontwikkeling in groot mate ooreenkom met die volkereg. De Klerk het na die voorbeeld van Tsjeggo-Slowakye, wat verdeel is, verwys. Meer onlangs het Soedan en Suid-Soedan onder die leiding van die AU in twee etniese state verdeel. Vroeër het Eritrea van Ethiopië afgeskei. Baie lande in die wêreld, insluitend Suid-Afrika, beywer hulle vir ‘n onafhanklike Palestynse staat.

Artikel 235 van die grondwet maak voorsiening vir selfs geografiese selfbeskikking van groepe op sterkte van taal en kultuur. Suid-Afrika is lid van die VN met sy resolusie oor die regte van minderheidsgroepe, wat lande móét nakom.

Ook dit is nie die volle prentjie nie. Die harde werklikheid is dat baie van die groepe wat na selfbeskikking streef, dit openlik op rassegrondslag doen; iets waarvoor die volkereg en die grondwet nié voorsiening maak nie.

Dit sal ook ‘n interessante studie wees om te bepaal of die huidige rassistiese opmerkings van jong mense in byvoorbeeld die kuberruim werklik na hul ouers herlei kan word, en of dit nie ‘n baie soortgelyke reaksie is op die huidige regering se neo-apartheid nie. Kan jong wit mense werklik ander belewenisse wys word uit hul ervarings, en die huidige ervarings van hul ouers, oor die voortdurende trek van die kort lootjie weens hul velkleur, as wat swart mense onder die vorige bedeling ervaar het?

Prof. Jansen is bekend vir die heldeverering wat hy vir Bram Fischer het. Hieroor het hy ‘n sekere persepsie, terwyl baie ander in afsku vervul is oor ‘n man wat hom volgens die literatuur blind gehou het vir Stalin se moordlus.

‘n Oorvereenvoudigde persepsie oor die verlede kompliseer die toekoms deur die toekoms met onverdiende bagasie op te saal. In ‘n onderhoud met Beeld wou Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, niks van minderheidsregte weet nie, en het hy dit foutiewelik aan ras gekoppel. ‘n Persepsie van die verlede laat hom die baba nou saam met die badwater uitsmyt. Dit bring Suid-Afrika nie in pas met die wêreld nie, maar haal Suid-Afrika juis uit pas uit.

Toe die laaste apartheidswet vanjaar, 21 jaar gelede, uit die wetboek verwyder is, was die ANC nog ‘n hele paar jaar nie aan bewind nie. Die ANC moet minstens ten dele die blaam dra dat die land vandag so erg rasgereguleerd en rasgepolariseerd is, en so lank as wat dit onder politieke korrektheid verberg word, so lank gaan die land nie aanbeweeg nie. Die simptome is duidelik, soos met naamsveranderings, terwyl, soos in die geval van die Tswane-metroraad, 300 strate nog naamloos is.

Hoe kan na ‘n skoon lei gewerk word, soos wat die huidige bedeling van voorneme was om te doen?

-          Jan Hofmeyr van die Sentrum vir Geregtigheid het onlangs in ‘n TV-onderhoud onder meer voorgestel dat daar in elke gemeenskap ‘n forum moet wees waar gekommunikeer moet word. Wat hy voorgestel het is geen nuwe gedagte nie, Suid-Afrika het oor die jare die  Verhoudingsaksie met sy stelsel van verhoudingskomitees, en ander soos die gemeenskapskakelforums, en private inisiatiewe soos Kontak en die Vroueburo geken. Die politieke leierskap het blykbaar geoordeel dat dié forums oorbodig onder die nuwe grondwet sal wees, ten spyte van waarskuwings tot die teendeel deur onder meer dr. Tjaart vd Walt, destydse president van die RGN. En Van der Walt was reg.

-          Moenie die geskiedenis probeer manipuleer nie. Kyk die geskiedenis in die oë, en leer om korrek daarmee te handel. Deur ‘n groep se bydrae tot die geskiedenis, hetsy die goeie of die slegte bydraes, te minimaliseer of weg te skryf toon ‘n gebrek aan respek en gaan die toekoms aan die hakskeen byt.

-          Stof die vredesakkoord gereeld af, en maak seker dat iemand dit in letter en gees onderskryf voor hy of sy tot die parlement verkies word of as kabinetslid aangestel word.

-          Laat vaar die appèl teen Julius Malema se skuldigbevinding aan haatspraak. En tree dan konsekwent oor haatspraak op.

Suid-Afrika het nie juis ‘n ander keuse as om van al die kante te versoen nie, anders gaan die boot met sy tewaterlating sink. Dan gaan elke kulturele en staatkundige ideaal in die land by voorbaat onder verdenking staan – van transformasie tot in die neerslag van die internasionale reg.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien

Duitsland kan teen 2012 op skoon energie "loop"

Duitsland kan  teen 2012 op skoon energie “loop”

Duitsland kan teen 2050 al sy energie uit hernubare bronne put. So sê die Duitse ingenieur Björn Pieprzyk in Rio de Janeiro, in die aanloop na die VN-omgewingsberaad Rio+20.  Pieprzyk is adviseur van die Duitse Federasie vir hernubare energie (BEE).
Maar daarvoor moet afgesien word van die huidige energiesisteem en onder meer subsidies vir fossiele- en kernbrandstof beperk word.

Vandag voorsien hernubare bronne 12 persent van die Duitse energie. "Ons gebruik sowat 20 persent hernubare energie in die elektrisiteitsektor, 9 persent in die verwarmingsektor en 6 persent in die brandstofbedryf.
"Dit is nog steeds 'n klein persentasie in vergelyking met fossielbrandstowwe. Maar die potensiaal is baie groot, veral in die sektor van die sonkrag-energie, maar ook in biobrandstof en in waterkrag."
"Maar die meerderheid van die Duitse bevolking en die regering is minder optimisties. Hulle verwag dat net die helfte van die energievraag in 2050 deur hernubare energie sal beloop."
Volgens Pieprzyk is hernubare energie vandag lonend. "Die laaste tien jaar het die koste van hernubare energie - wind- en sonkragenergie - baie vinnig gedaal.
Vandagkos dit amper net so veel om hernubare energie op te wek as deur fossielbrandstof . Kernsentrales is veel duurder as hernubare energiebronne.”
Nou betaal 'n Duits gesin ongeveer 0,25 Euro per kilowatt vir sy energie. "Die prys vir sonkrag-energie is nou al laer as dit.
In Europa isDuitsland op die voorpunt van hernubare energie, "maar ander lande het dieselfde koers ingeslaan en in sommige is die omstandighede om hernubare energie te gebruik ook baie beter. Groot-Brittanje en Ierland het heelwat son in die suide.
"Dit is vir die hele Europa moontlik om dié weg in te slaan en doelwitte in die volgende dekades te bereik. Maar dan moet daar wel meer politieke en wetlike stimuleringsmaatreëls in sommige sektore kom, veral in die elektrisiteitsektor."
Skoon, hernubare energie dra by tot ekonomiese groei en indiensneming en verlaag die afhanklikheid van invoere.

Rio +20 word van 20 tot 22 Junie in Rio de Janeiro gehou en kom na 'n aantal onlangse omgewing- en ontwikkelingsberade wat weinig opgelewer het. Twintig jaar gelede is die eerste aardeberaad Rio de Janeiro gehou.

Bron: IPS en TROUW

Nuuskommentaar: Bril na die verlede is teleskoop na die toekoms

Nuuskommentaar: Bril na die verlede is teleskoop na die toekoms

Onlangs was alles gereed – die orkes, sjampanje, roeiers en toeskouers by Dover. Toe word die replika van ‘n boot uit die Bronstydperk wat met replikagereedskap van 3 500 jaar gelede gemaak is te water gelaat – en die boot sink.

Die geleerdes gaan nou koppe bymekaar sit om vas te stel waar hulle nie 100 % reg was  in hul waarnemings van die Bronstydperk nie.

Vandag skryf prof. Jonathan Jansen, rektor van die UV en rubriekskrywer in Die Burger die volgende: “As jy wit Suid-Afrikaners mal wil maak, praat oor die verlede. As jy swart Suid-Afrikaners mal wil maak, praat daaroor soos F.W. de Klerk op CNN gedoen het. http://www.dieburger.com/Rubrieke/JonathanJansen/Jakkalsdraai-oor-reg-en-verkeerd-20120514

Intussen het De Klerk opnuut aangedui dat wat hy gesê het, verdraaid aangebied is. http://afrikaans.news24.com/Suid-Afrika/Nuus/De-Klerk-se-opmerkings-is-verdraai-20120514

Jansen striem hierna vir De Klerk en vervolg: “As ons nie kristalhelder oor reg en verkeerd kan wees nie, loop ons jeug gevaar om ons morele dubbelsinnigheid te erf. In die afgelope twee weke het hierdie morele dubbelsinnighede oor die verlede die hede met mening binnegedring.”…” Ons kan nie ons wonde uit die verlede genees nie tensy ons eens en vir altyd erken apartheid was boos, uit en gedaan.”

In die Akademie-tydskrif van Maart vanjaar word berig oor ‘n nuwe geskiedenisboek oor Suid-Afrika wat deur die land se voorste 26 historici, onder die leiding van prof. Fransjohan Pretorius saamgestel word, om “`n omvattende, ewewigtige en geloofwaardige naslaanwerk oor ons geskiedenis te skep, as teenwig vir die skewe haasbek-geskiedenis wat die arme kinders op skool deesdae lepels vol van gevoer word.” Aldus Hennie van Deventer, oud-redakteur van die Volksblad onder die titel, Die laaste boek.  http://hennievandeventer.com/hvdblog/?p=4050

Op RSG se aktualiteitsprogram, Kommentaar, was die deelnemers dit eens dat dit nog jare sal duur voor die onderwerp wat De Klerk aangespreek, objektief en emosieloos onder die loep geneem sal kan word.

Suid-Afrika is ook nie al land wat moeite het om perspektiewe uit die verlede onder die knie te kry nie. Hoofsaaklik weens die Nazi’s se optrede teen Jode, sigeuners en ander, het verskeie Wes-Europese lande wetgewing wat die ontkenning van volksmoorde strafbaar maak. Tog het Turkye die volksmoorde op die Armeniërs, Koerde en Assiriërs uit hul geskiedenisboeke verwyder, en is so deeglik hiermee dat Turksgebore parlementslede in Nederland al as parlementslede bedank het omdat hulle weier om te glo die volksmoorde het plaasgevind. Maar dit wat die Turke ontken is besonder lewend onder die slagoffervolke, en dié volksmoorde vier binnekort hul eeuherdenking. Turkye se ore gaan behoorlik tuit.

Paleontoloë, argeoloë en historici span nou in vele studies saam om te kyk hoe die mens en die natuur in die verlede by klimaatverandering aangepas het, sodat iets daaruit wys geword kan word met die oog op die toekoms. Daar is gewoon nie ruimte vir persoonlike of groepsentimente nie – dit vereis ‘n kliniese blik op die werklikheid.

Wanneer mense se motiewe in die verlede beoordeel word, is ander spelreëls egter nodig om die element van subjektiwiteit te bepaal. In ‘n onlangse meestersverhndeling by die US word onder meer duidelik getoon hoe uiteenlopend persepsies by wit en swart is oor hoe blankes hul grond bekom het. Verreweg die meeste swart mense glo blankes het hul grond bekom deur dit van swart mense te steel, terwyl baie min blankes en bruin mense hierdie denke deel. Malema se opmerking dat blankes misdadigers is wat swart mense se grond gesteel het, was nie in ‘n lugleegte nie. Dr. Pieter Mulder se kliniese uiteensetting in die parlement het ‘n soortgelyke reaksie ontlok as De Klerk se CNN-stellings en sy verduidelikings daarna.   

Die Romeins-Hollandse regstelsel, gebaseer op die beginsel van natuurlike geregtigheid, vereis egter dat daar begrip moet wees vir iemand se persepsie van die werklikheid, enersyds om te bepaal of daar kwaadwillige opset was, of om as strafversagting te oorweeg. Die Suid-Afrikaanse grondwet, wat die artikel oor administratiewe geregtigheid aanvul met ‘n artikel oor die reg van toegang tot inligting wat ‘n burger se regte raak en wat die staat hou, is een van die min grondwette in die wêreld wat so ver gegaan het om dit grondwetlik te kodifiseer.

In die geval van die Reitz-vier, was Jansen ‘n goeie voorbeeld van iemand wat dié konsep goed onder die knie het, en hy het wye lof hiervoor gekry.

Is dit werklik so eenvoudig om iemand as in sy wese as boos te beskryf, wat aan moedersknie geleer het alle mense is gelyk, en juis daarom moet verskillende groepe elk die reg tot volle selfbeskikking hê, en wat nooit die k-woord gebruik het nie soos sy ouers hom geleer het? Selfs al het hy akademies bitter swaar aan Kovsies gekry waar hy in die middel 70-gerjare verskil het van die dosent wat die studente verplig het om te leer van die “Christelike beleid van apartheid versus gelykstelling?” En juis verskil het omdat hy nie saamgestem het met die dosent se stelling dat apartheid nie ook op gelykstelling moet neerkom om Christelik te kan wees nie?

En verder, moet hy nou sy ouers veroordeel oor wat hulle geglo het, en gesterf het voor hulle die afloop van die geskiedenis kon beleef?

Voorts is daar die probleem dat die beleid van afsonderlike ontwikkeling in groot mate ooreenkom met die volkereg. De Klerk het na die voorbeeld van Tsjeggo-Slowakye, wat verdeel is, verwys. Meer onlangs het Soedan en Suid-Soedan onder die leiding van die AU in twee etniese state verdeel. Vroeër het Eritrea van Ethiopië afgeskei. Baie lande in die wêreld, insluitend Suid-Afrika, beywer hulle vir ‘n onafhanklike Palestynse staat.

Artikel 235 van die grondwet maak voorsiening vir selfs geografiese selfbeskikking van groepe op sterkte van taal en kultuur. Suid-Afrika is lid van die VN met sy resolusie oor die regte van minderheidsgroepe, wat lande móét nakom.

Ook dit is nie die volle prentjie nie. Die harde werklikheid is dat baie van die groepe wat na selfbeskikking streef, dit openlik op rassegrondslag doen; iets waarvoor die volkereg en die grondwet nié voorsiening maak nie.

Dit sal ook ‘n interessante studie wees om te bepaal of die huidige rassistiese opmerkings van jong mense in byvoorbeeld die kuberruim werklik na hul ouers herlei kan word, en of dit nie ‘n baie soortgelyke reaksie is op die huidige regering se neo-apartheid nie. Kan jong wit mense werklik ander belewenisse wys word uit hul ervarings, en die huidige ervarings van hul ouers, oor die voortdurende trek van die kort lootjie weens hul velkleur, as wat swart mense onder die vorige bedeling ervaar het?

Prof. Jansen is bekend vir die heldeverering wat hy vir Bram Fischer het. Hieroor het hy ‘n sekere persepsie, terwyl baie ander in afsku vervul is oor ‘n man wat hom volgens die literatuur blind gehou het vir Stalin se moordlus.

‘n Oorvereenvoudigde persepsie oor die verlede kompliseer die toekoms deur die toekoms met onverdiende bagasie op te saal. In ‘n onderhoud met Beeld wou Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, niks van minderheidsregte weet nie, en het hy dit foutiewelik aan ras gekoppel. ‘n Persepsie van die verlede laat hom die baba nou saam met die badwater uitsmyt. Dit bring Suid-Afrika nie in pas met die wêreld nie, maar haal Suid-Afrika juis uit pas uit.

Toe die laaste apartheidswet vanjaar, 21 jaar gelede, uit die wetboek verwyder is, was die ANC nog ‘n hele paar jaar nie aan bewind nie. Die ANC moet minstens ten dele die blaam dra dat die land vandag so erg rasgereguleerd en rasgepolariseerd is, en so lank as wat dit onder politieke korrektheid verberg word, so lank gaan die land nie aanbeweeg nie. Die simptome is duidelik, soos met naamsveranderings, terwyl, soos in die geval van die Tswane-metroraad, 300 strate nog naamloos is.

Hoe kan na ‘n skoon lei gewerk word, soos wat die huidige bedeling van voorneme was om te doen?

-          Jan Hofmeyr van die Sentrum vir Geregtigheid het onlangs in ‘n TV-onderhoud onder meer voorgestel dat daar in elke gemeenskap ‘n forum moet wees waar gekommunikeer moet word. Wat hy voorgestel het is geen nuwe gedagte nie, Suid-Afrika het oor die jare die  Verhoudingsaksie met sy stelsel van verhoudingskomitees, en ander soos die gemeenskapskakelforums, en private inisiatiewe soos Kontak en die Vroueburo geken. Die politieke leierskap het blykbaar geoordeel dat dié forums oorbodig onder die nuwe grondwet sal wees, ten spyte van waarskuwings tot die teendeel deur onder meer dr. Tjaart vd Walt, destydse president van die RGN. En Van der Walt was reg.

-          Moenie die geskiedenis probeer manipuleer nie. Kyk die geskiedenis in die oë, en leer om korrek daarmee te handel. Deur ‘n groep se bydrae tot die geskiedenis, hetsy die goeie of die slegte bydraes, te minimaliseer of weg te skryf toon ‘n gebrek aan respek en gaan die toekoms aan die hakskeen byt.

-          Stof die vredesakkoord gereeld af, en maak seker dat iemand dit in letter en gees onderskryf voor hy of sy tot die parlement verkies word of as kabinetslid aangestel word.

-          Laat vaar die appèl teen Julius Malema se skuldigbevinding aan haatspraak. En tree dan konsekwent oor haatspraak op.

Suid-Afrika het nie juis ‘n ander keuse as om van al die kante te versoen nie, anders gaan die boot met sy tewaterlating sink. Dan gaan elke kulturele en staatkundige ideaal in die land by voorbaat onder verdenking staan – van transformasie tot in die neerslag van die internasionale reg.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien

Nuuskommentaar: Twiet-twiet, in die voet geskiet

Nuuskommentaar: Twiet-twiet, in die voet geskiet

Die afgelope paar dae het verskeie binnelandse nuusgebeure om kommentaar en ontleding geroep. Daar is ‘n storm om die kop van luitenant-generaal Richard Mdluli waar dié stekelrige uitryg nog nie end se kant toe staan nie, voorgestelde wysigings aan die inligtingswetsontwerp met nog genoeg angel oor, twee modelle wat die land se ore met hul twiets laat tuit het, ‘n gesprek van die ANC met meningsvormers uit die Afrikaanse gemeenskap, met die boikot deur onder meer die FAK en  Solidariteit wat waarskynlik meer nuuswaardig was die gesprek self, en ‘n woordestryd tussen die DA en Cosatu wat op verskeie vlakke uitslaan. Voorts het oud-president FW de Klerk in ‘n onderhoud met CNN aspekte van die tuislandbeleid geopper wat op nou so ‘n manier aangebied word dat dit ook ‘n storm veroorsaak.

Elkeen van hierdie onderwerpe is uiters belangrik. Die DA-Cosatu-stryd roep byvoorbeeld na ‘n antwoord oor wie die land se werklike opposisie is – die DA, of Cosatu?, en die antwoord sal as koorspen dien oor die stand van veelpartydemokrasie.

Die Mdluli-sage dien weer as barometer oor onbehoorlike politieke inmenging, en die geloofwaardigheid van die skarrellende politici.

Die hele sage om die samesprekings met die ANC is tekenend dat die boer se moermeter nog in die rooi loop. Dié wat nie die gesprek geboikot het nie, het die ANC meegedeel dat die regering sy sokkies sal moet optrek. Nog kwessies wat die moermeter gaan stook is dat die ANC se sekeretaris-generaal, Gwede Mantashe, in ‘n onderhoud niks van minderheidsregte wou weet nie, en dit op die een of ander manier na wit bevoorregting herlei.

En vir oulaas span dr. Piet Croucamp, een van die gespreksfasiliteerders, die teerkwas in om na die Afrikaner te verwys. Hy skryf onder meer: “Ek is oortuig daarvan dat Afrikanerskap so uitgedien is soos ’n rooksein en dat Suid-Afrika beter daaraan toe is sonder Afrikaners, soos die land beter daaraan toe is sonder Julius Malema.” (Lees artikel in Rapport by

http://152.111.1.87/argief/berigte/rapport/2012/05/12/R2/VI/13mei_pietcrou.html )

Die modelle se getwiet trek egter ‘n buitengewone aandeel van die nuus. Hulle is beide jonk en dat juis hulle die wag voor die vingers vergeet het, dui aan dat rasprobleme in die land steeds diep loop, 21 jaar na die laaste apartheidswet uit die wetboek verwyder is.

In RSG se program, Kommentaar, het die deelnemers ook geoordeel dat die klimaat nog lank nie reg is dat FW die kwessie oor die tuislandbeleid klinies kon aanspreek nie.

As ‘n gesoute politikus en opgeleide regsgeleerde soos FW sake op ‘n manier kan stel wat as ontstellende pakket aan die wêreld voorgehou word, watter kans het twee modelle en ander jong Suid-Afrikaners om slaggate te vermy wat dikwels dateer uit ‘n era voor hulle nog gebore is?

En dit is dikwels juis die jongelinge wat met ontsaglik potente kommunikasie-instrumente in die hand toegerus is – hulle twiet en benut die kuberruim op ander maniere. Dis instrumente wat ‘n sleutelrol in die Arabiese domino-revolusie gespeel het.

Dit is egter nie net die jongelinge wat twiet nie. Die DA-leier, Helen Zille, het groot aandag getrek toe sy in ‘n twiet na mense wat uit die Oos-Kaap na die Wes-Kaap stroom as vlugtelinge verwys het. Sy is vanuit ANC-geledere erg hieroor verkwalik.

Skaars het die voorlopige bevindings van die Openbare Beskermer oor ‘n kommunikasietender in die Wes-Kaap uitgelek, of joernaliste en ander politieke leiers onthou sy het getwiet dat sy sal bedank as daar ongerymdhede sou blyk. 

Die benutting van die kuberruim is ‘n relatiewe nuwe verwikkeling in die mensdom se kommunikasie-arsenaal. Paslike protokolle en wetgewing ontbreek nog dikwels, wat ‘n groot ruimte laat aan kuberswyne om dié tegnologie in te span om, verskuil agter skuilname, die teerkwas vir erge vitrioel in te span. So iets sal uiteraard nie lank in ‘n land met ‘n sin vir geregtigheid geduld word nie, en wêreldwyd neem die vervolging van die kuberswyne toe. Van hulle het selfs al tronkstraf op die lyf geloop.

Presies hoe laakbaar die kubervitrioel kan daal blyk daaruit as ‘n “debat” in die kuberruim losbars waarin mense wat hulself Christene noem oor geloofskwessies mekaar so bydam dat die eertydse Inkwisisiedrywers sou kon kom les neem.  

Die kuberruim het egter gekom om te bly, en dit maak die wêreld moeilik om inligting te smoor. Dit behels inligting wat die owerheid om die een of ander rede van die publiek wil weerhou, of inligting wat selfs ‘n wetlik vrye pers weerhou wanneer daardie inligting nie ‘n politieke agenda pas nie, en selfsensuur toegepas word.

Dit plaas in die gewone mens se hande iets wat veel magtiger as die swaard is.

Twiet, twiet, jou reputasie is tot niet.

Opgestel vir MaroelaMedia

Herman Toerien  

Nuwe bundel oor paleontologie, argeologie en geskiedenis

Vriende

Uit my mees onlangse artikels oor argeologie en verwant het ek ‘n bundeltjie van net meer as veertig pp saamgestel. Dit bevat vd jongste aspekte van argeologie soos onderwater-argeologie, wanneer die mens die eerste keer springmielies geëet het, hoe mense in Suid-Amerika utgestorwe olifantsoorte gejag of geaas het vroeër as wat argeoloë onlangs nog gemeen het die vroegste mens die Amerika’s bereik het, hoe baie vd argeologie en paleontologie vandag afgestem word om te bepaal hoe die mens by klimaatverandering moet aanpas, en hoe ruimtetegnologie ingespan word. Dit is miskien minder beknd dat die Indiane wél die wiel geken het, al was dit ook net vir ornamente en speelgoed.

Die bundeltjie kan gelees, en selfs afgelaai word by die URL hieronder.

Die bundeltjie is ‘n tussentydse versameling om artikels uit my pen bymekaar te maak om te integreer in my bestaande bundeltjie oor veral die klipkulture in SA. Nou word die net meer wêreldwyd gespan.

http://hermantoerien.posterous.com/paleontologie-argeologie-geskiedkundiges-en-h

Groete

Herman

Herman Toerien

Argeologie onder die water

Argeologie onder die water

Vergeet eers van Atlantis. Daar is oorgenoeg ander plekke wat nou onde3r die water lê wat ondersoek kan word, soos die Middeleeuse Engelse dorp Dunwich wat nou onder die see lê. En verder noord lê ook nog Old Kilnsea en Eccles.

Maar dis tien keer duurder om ondersee te graaf as aan land, en daarom word verskeie vorme van moderne tegnologie ingespan om te soek na kerke, strate en ander oorblyfsels van menslike bewoning wat nou onder die water lê.

En die Noordsee lewer al hoe meer artefakte op uit tye wat tot moontlik ‘n 100 000 jaar terug strek. Trouens, groot moeite word gedoen om ‘n topografiese kaart op te stel van die “Verlore land” wat Engeland nie net met

Image001
Europa nie, maar selfs Skandinawië verbind het.

Argeologie onder die water het onlangs weens beter toerusting werklik ‘n erkende vertakking van argeologie geword, en intussen  ook al gespesialiseer. Dit behels veel meer as die ontdekking en bestudering van ou skeepswrakke, omdat groot dele van die oseaan voorheen weens lae seevlakke bewoon was, en nou onder water is. 

Trouens, lae seevlakke het dit moontlik gemaak dat mense na die Amerika’s kon verhuis, en sekere diersoorte soos die kamele en bisons ook na ander kontinente kon verhuis. Soms, soos na Australië, het stukke see oorgebly wat nog ‘n stukkie seevaart nodig gemaak het. Wat egter duidelik is, is dat die eerste Australiese inboorlinge dié vasteland moes bereik het lank voor mense die Amerika’s kon bereik het, die eerste waarskynlik so 50 000 jaar gelede, en daarna nog wat “deurgesyfer” het soos die mense wat die dingo in die laaste 5 000 jaar gebring het. Die inboorlinge het skynbaar hul seevaartvermoë verloor, en Tasmanië droogvoets bereik. Na die seevlak gesyg, en die inwoners van Tasmanië “vasgekeer” het, kon die vasteland en selfs nabygeleë eilande nie weer bereik word nie. Waar die inboorlinge wel seevaartvermoëns gehad het, is dit blykbaar eers later ontwikkel.

Die interessantheid is dat sommige bronne nog meen die vroegste Australiese inboorlinge tot Homo erectus behoort het. Genetiese toetse toon aan dat daar wel, soos met Europeërs, ‘n klein teenwoordigheid van Neandertal is, asook Denisovan, die afsonderlike menstipe wat onlangs deur DNS-toetse van ‘n pinkie uit ‘n Siberiese grot geïdentifiseer is.  

Hoewel argeologie en paleontologie net vir ‘n breukdeel van die aarde se bestaan oorvleuel, kom daar daagliks nuwe ontdekkings aan die lig wat fraksies diepe in die paleontologie se “domein” in strek.

Die vraag oor wanneer die eerste mense die Amerika’s moes bereik het, lewer gereeld ouer en ouer antwoorde op. In die suide van Suid-Amerika is nou reeds bewyse van menslike aktiwiteite van 14 000 jaar gelede gevind, wat min of meer ooreenstem met die oudste aanvaarde bewyse van menslike besetting in Noord-Amerika. Sou dit wees dat beide kontinente byna gelyktydig beset is, sou dit net kon gebeur as die suidwaartse migrasie eers plaasgevind het langs ‘n strook wat nou onder die see lê. Daar is toenemende bewyse dat dié migrasie met bote, of minstens deels met bote geskied het.

Om die binneland te bereik sou weens ‘n groot ysversperring byna onmoontlik wees, sodat dit nou ook lyk of die meer noordelike aanvanklike vestiging van Noord-Amerika uit die suide kon plaasgevind het – na die migrerendes onderom die suidelike punt van die ysversperring getrek het.

Dikwels is daar van die mense van toet self geen oorblyfsels nie, maar wel van hul gereedskap, en van dié gereedskap se merke op diere waarop hulle jag gemaak het, of geaas het.  

Dele wat later onder water beland, word dikwels beter bewaar, omdat omstandighede daar kan ontwikkel waar min suurstof in die water is. Onderwatergrotte in Meksiko se Yucatánskiereiland is ‘n goeie voorbeeld. Die area is grootliks kalksteen, en dit is, soos die Kangogrotte, geneig om baie diep grotte, en baie daarvan te vorm. Tussen 10 000 en 14 000 jaar gelede, toe die skelette wat nou in die grotte is daar beland het, was dit egter droë grond. En nou het so ‘n skelet voete gekry – is blykbaar gesteel.

‘n Geraamte wat vroeër gevind is, het kenmerke van Indonesiese en Suid-Asiatiese kenmerke gehad, wat ‘n klomp vrae oor die herkoms van die oudste Amerikaanse bevolkings laat ontstaan het, en wanneer hulle daar gekom het. Voorheen is geglo dat die Clovis-kultuur van sowat 13 000 jaar oud die oudste menslike nedersetting verteenwoordig. Amerikaanse hoofstroom-argeologie is bekend vir hul konserwatiewe benadering – met goeie rede – en om van geykte opvattings af te wyk, verg baie onomstootlike bewyse. Die pre-Clovis-gedagte vat egter algaande meer en meer pos, en die bewyse stapel op.

Verlede jaar het argeoloë aanspraak gemaak dat hul klipwerktuie in sentraal-Texas gekry het wat 15 500 oud is, en dus Clovis met 2 500 troef. Dié werktuie wat onder die Clovis-laag gekry is, is ruwer en kleiner as Clovis, maar die argeoloë meen dit kon nietemin wees dat Clovis later hieruit ontwikkel het.

Terwyl argeoloë en genetici die herkoms van die eerste Amerikaners uitpluis, lyk dit al meer na ‘n uitgemaakte saak dat minstens twee onverwante migasiestrome sowat 15 000 jaar gelde uit Siberië moes gekom het, nadat ‘n groep reeds duisende jare lank in relatiewe isolasie voor die deurtog aan die Beringsee gewoon het. ‘n Uitsondering is die Na-Dene-groep wat vermoedelik eers sowat 6 000 tot 10 000 jaar gelede Noord-Amerika bereik het – dalk per boot. Daar is ‘n sterk saak uitgemaak dat die Na-Dene-tale verwant is aan ‘n groep Siberiese tale waarvan Ket steeds gepraat word.

Onlangs het twee wetenskaplike weer lewe geblaas in die teorie dat mense uit Europa Noord-Amerika sowat 22 000 jaar gelede kon bereik het, en weer het die see die eerste artefak opgelewer. ‘n Treiler het in 1970 ‘n mastodontand (oer olifant) uit see by Virginia uit die Atlantiese Oseaan geskep. Saam met die tand was ‘n klipmes se lem. Die tand, het toetse getoon, was 22 000 jaar oud. Dié vonds was 100 kilometer van die teenswoordige kus, en sowat 70 meter diep. Teen die einde van die laaste ystydperk was dit droë land, naby die kus. Sedertdien is nog klipwerktuie uit die se gehaal, en ‘n boek is onlangs hieroor gepubliseer.

Hierdie oermense, wie se werktuie met ‘n groep wat in Spanje en Frankryk gewoon het ooreenstem, sou al langs ‘n ysplaat wat in die ystydperk langs die Noord-Atlantiese oseaan gestrek het, beweeg het en baie soos Eskimo’s geleef het.

Genetiese toetse lewer egter nog geen stawing op nie, anders as dat die eerste Amerikaners uit ‘n bevolking stam wat nie lank voor 15 000 jaar gelede oor die Beringsee gekom het nie.

Terwyl argeoloë dikwels van onregstreekse metodes gebruik moet maak om af te lei dat voorsate ‘n vorm van seevaart geken het, omdat dit byna onmoontlik is om klipwerktuie uit dae van laer seevlak te vind, is wel artefakte uit Valsbaai gehaal. In Suid-Amerika word dit afgelei van die ontleding van reste van byvoorbeeld seewier, waaruit dit blyk dat hierdie migrante verskillende soorte seewier as eetbaar moes geken het, en ook waar om dit te oes.

Baie navorsing word onder meer gedoen om te bepaal of die vroeë emigrante uit Afrika ook Arabië via die Horing van Afrika kon bereik het, en dus seevaart moes bemeester het, al was die see toe veel smaller as nou.  

Ook Neandertal, minstens soms, het skynbaar die vermoë gehad om watermassas oor te steek.  Kreta, wat al miljoene jare gelede ‘n eiland was, lewer klipwerktuie op wat sowat 125 000 jaar oud is, dus voor sapiens uit Afrika gekom het. Sou dit die werk van Neandertal wees, het hulle die eiland waarskynlik eerder met primitiewe vlotte as bote of kano’s bereik.